EG is Kampioene
Mon, 12 May 2008 17:22
Die kampioene
Kampioenskapglorie was gister in Pretoria nie vir die eerste rugbyspan van die Hoerskool Monument beskore nie, toe hy met 13-10 deur Dr. EG Jansen in die eindstryd van die NuPower Tuks-reeks geklop is.
Monnas het vanuit die staanspoor gesukkel om sy ritme te vind vanwee die wenspan se vermoë om die Wit Bulle tot foute te dwing.
In die halfeindronde het Waterkloof gewys dat die Boksburgers kwesbaar kan wees as jy hoë tempo hardlooprugby speel.
Rustyd (13-0) was daar redelik daglig tussen die twee spanne. Monnas het algaande beter gespeel en die voordeellyn in die tweede skof gereeld met brute kraglopies oogesteek. Dinge het egter in die lynstane gelol deurdat Monnas se haker en sy springers gesukkel het om mekaar te vind.
Monnas se losskakel, Christo Potgieter, het vroeg in die tweede helfte Monnas se rekening met 'n strafdoel geopen. Daarna het Bradley Moolman Monnas se enigste drie gedruk om sy span enduit in die prentjie te hou. Die verloorspan se ondersteuners het na hul asems gesnak toe Jaco Taute - in die doodsnikke van die wedstryd - digby die doellyn deur die vleuel Morne Stassen met desperate verdediging gestuit is. Dit was so hittete of Taute het die doellyn oorgesteek.
Vyftien oorstelte spelers het hul hande triomflik in die lug gegooi, terwyl honderde skoolkinders, ouers en toeskouers op die veld gestorm het om die glorie met hul rugbyhelde te deel. Die vonkelwynbottels se proppe het kort hierna geklap, terwyl daar hier en daar 'n speler met 'n wittrui op die plek kop om laag bly sit het, met die trane wat sigbaar vlak gelê het. Een droom lê aan skerwe, 'n ander is verwesenlik.
Die nederlaag sal waarskynlik as brandstof dien vir die Krugersdorpers om hulself in die gesogte Beeld-trofee te laat geld. Monnas is daarvoor bekend dat hy sy beste spelpeil bereik wanneer dit die meeste saak maak. Benewens al die gegewe kan daar niks van die bielies van Boksburg puik oorwinning weggeneem word nie.
As 'n eenheid speel die span puik rugby en met net soveel spelbrekers agterlangs en 'n gedugte agttal kan die span waarskynlik net van krag tot krag gaan.
Wat die ander eindstryde betref, het die o.16-span van Centurion, Florida met 29-17 geklop. Waterkloof se o.15-brekers het Marais Viljoen 19-12 geklop om die kroon te dra en Monnas se o.14-kannetjies het Waterkloof in 'n klipharde stryd met 15-13 geklop.
Deur Ettienne van Rensburg
Allpix Media






